Om leerders in ‘n posisie te plaas wat hulle in staat sal stel om eksterne eksamens te slaag en sodoende die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) te bekom, ongeag deur watter eksamenraad (DoE, IEB of OAER) die leerder die eksterne eksamens aflê, moet Nukleus Uitkomsgebaseerde Onderwys (UGO) aanbied binne die raamwerk van alle toepaslike wetgewing en regulasies.
Nukleus sal egter altyd poog, in ons strewe na uitnemendheid, om ‘n hoër standaard daar te stel as wat deur die owerheid vereis word.
Nukleus verbind hom ook daartoe om voortdurend die inhoud van die kurrikulum aan te suiwer en korrek deur te gee deur die onwaarhede wat gepropageer word, sowel as die on-Bybelse sienings, -waardes en -teorieë wat ons kinders opgedis word, uit te filtreer.
Dit is egter ‘n enorme taak wat voorlê met uitdagings wat soms onoorkombaar lyk, maar ons glo dat die Vader ons hiertoe in staat sal stel totdat Hy vir ons as volk ‘n uitkoms bied waarin ons ons kinders sal kan onderrig in suiwer waarheid.
Ons pleit dat alle ouers hulle kind(ers) se Bybelonderrig en opvoeding as ‘n opdrag van ons hemelse Vader sal besef en dienooreenkomstig hierdie plig, hul kinders sal opvoed met die Skrif as basis en nie hierdie verantwoordelikheid versuim of op ander probeer afskuif nie. Die Skrif sê immers dat ons ons kinders die Woord moet inskerp (Deut. 6:6,7).
Vir te lank was die Afrikanervolk gewoond om sy opvoedingsplig op die staat oor te skuif en aan die onderwysers oor te laat. Dit het egter tyd geword dat kinders onder die hoor van die Woord sal grootword sodat hulle die aanslae van ons tyd sal kan afweer en sal kan onderskei tussen die leuen en die waarheid.