Volgens die Nasionale Skolewet van 1996 is alle Suid-Afrikaanse burgers tussen die ouderdom van 7 en 15 jaar of die laaste skooldag van graad 9, watter een ook al eerste geskied, skoolpligtig. Ouers kan egter aansoek doen by die Departement van Onderwys vir vrystelling hiervan of om die leerder vir tuisonderrig te registreer. Indien ‘n leerder nie geregistreer is by ‘n geregistreerde skool of andersins as ‘n tuisleerder nie en ook nie vrygestel is hiervan nie, is dit ‘n oortreding van die wet.
Om leerders in staat te stel om, binne die landswette, graad R tot 9 suksesvol te kan voltooi en daarna ook graad 10 tot 12 as ‘n eenheid suksesvol te kan voltooi, het Nukleus die volgende twee opsies vir leerders daargestel:
Afstandleerder-opsie
Afstandsleerders word by Hoërskool Bergvesting, ‘n geregistreerde en geakkrediteerde skool, geregistreer en sodoende ook by BCVO.
Deurlopende assesseringstake en eksamens word deur gekwalifiseerde onderwysers opgestel en nagesien waarna ‘n wettige evalueringsverslag (rapport) op grond van die leerder se punte behaal in die take en eksamens, kwartaalliks uitgereik word. Die gemerkte assesseringstake en eksamens word dan netjies in die vorm van ‘n leerderportefeulje deur Nukleus gestoor vir moderering vir 1 jaar na die leerder die spesifieke graad voltooi het. Graad 10 tot 12 leerder-portefeuljes sal deur Nukleus gehou word totdat die finale uitslae van die Nasionale eksamen afgelê, bekend gemaak is en leerders die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) ontvang het, al dan nie.
Tuisleerder-opsie
Dit staan egter enige ouer/voog vry om nie die afstandsleerder-opsie uit te oefen nie en nog steeds die Nukleus lesmateriaal per graad of selfs per vak aan te koop. In beide die gevalle sal die ouer/voog dan self verantwoordelik wees om die leerder vir tuisonderrig by die betrokke Onderwysdepartement te registreer.
Nukleus sal in die geval waar die leerder vir die volle graad inskryf, slegs die verskaffer van die lesmateriaal wees en sal nie vir die assesseringstake of eksamens verantwoordelik wees nie. Nukleus sal dienooreenkomstig ook nie ’n evalueringsverslag kan uitreik nie.