Die akademiese jaar (graad R tot 12) is in 4 modules (afdelings) opgedeel. Elke module is dan verder in lesse per kwartaal opgedeel (20 lesse per hoofvak en 10 lesse per byvak) wat saamval met die kwartaalprogram van die BCVO skole.
Leerders skryf in vir ‘n module, betaal slegs vir die module en ontvang die toepaslike lesmateriaal.
In die geval van afstandsleerders wat dus die assesseringsopsie verkies, word assesseringstake en eksamens aan die leerder gestuur. Die assesseringstake en eksamens word dan ongemerk, volgens vaste Nukleus voorskrifte, voor of op spesifieke sperdatums aan Nukleus teruggestuur. Hierdie assesseringstake en eksamens word deur ‘n span onderwyskundiges nagesien en geëvalueer. Die punte word dan deur Nukleus verwerk en ‘n vorderingsverslag word aan elke leerder uitgereik. Eksamens word gedurende die 2de en 4de kwartaal afgelê (behalwe graad 12 wat ‘n Rekord-eksamen in die 3de kwartaal aflê).
Die ouers van tuisleerders wat dus nie gebruik maak van Nukleus se afstandsleerder-opsie nie, sal nie assesseringstake of eksamens ontvang nie.
Die Lesmateriaal
Nukleus lewer kindervriendelike lesse wat deur ‘n span ervare onderwyskundiges saamgestel is. (Waar nodig word handboeke aangekoop volgens die voorskrifte van BCVO.) Dit staan die ervare onderwyser se plek vol en dien as kragtige hulpmiddel vir onderwysers, ouers en bystandsentrums. Elke les is so geskryf dat aandag aan al Nukleus se onderwys– en opvoedingsdoelwitte gegee word. Lesmateriaal word per module in 20 lesse per hoofvak en 10 lesse per byvak ingedeel.
Die Ouergids
Nukleus werk hard aan die opgradering van ouergidse om sodoende die volgende daar te probeer stel:
Elke les te laat begin deur vir die ouer te verduidelik wat hy/sy nodig het om die les aan te bied. Die ouer word dus gehelp om korrek voor te berei vir elke les.
Die leeruitkomste van elke spesifieke les moet aan die ouer verduidelik word om sodoende die ouer in staat te stel om klem te lê op wat belangrik is.
Memorandums op aktiwiteite in die lesmateriaal moet bestaan uit antwoorde wat stapsge- wys verduidelik en puntsgewys uiteengesit word, sodat ouers sal weet waarna om op te let en hoe om punte toe te ken.
Die ouer se hande moet hierdeur losgemaak word deur die werkskemas, memorandums en bronmateriaal aan hulle te verskaf.
Let asseblief daarop dat die Ouergids nie daar is vir die leerder om te gebruik nie. U as ouer gebruik dit om vas te stel of die leerder die werk verstaan en genoegsaam vorder.
Eksamens en assessering
Assesseringstake sluit naslaanwerk, gevallestudies, dataverwerking en toetse op ‘n deurlopende basis in.
Die Nukleuskursus vir graad R tot 11 strek jaarliks oor vier kwartale en eksamens word jaarliks gedurende Junie en November afgelê. Alle interne eksamens word tuis onder toesig van ‘n onafhanklike party afgeneem. Hierdie onafhanklike persoon moet ‘n onderneming teken waarvolgens hy/sy die toetse en eksamen sal ontvang en die antwoordstelle direk aan Nukleus pos. Benewens eksamens voltooi leerders gereeld op deurlopende basis assesseringstake. Sperdatums vir die inhandig van assesseringstake sal streng nagevolg word en alle werk moet op die gegewe sperdatums reeds by die Nukleus kantoor wees. Die Nukleus kantoor sal hierdie sperdatums betyds aan alle leerders deurgee. Indien alle assesseringstake en eksamens nie betyds die Nukleus kantoor bereik nie, sal die leerder nie ‘n rapport of ‘n Nukleus evalueringsverslag ontvang nie. Let ook daarop dat indien u nie by BCVO registreer nie, Nukleus nie ‘n wettige rapport kan uitreik nie, maar slegs ‘n evalueringsverlsag.
Ondersteuningsdienste
Afstandsleerders ontvang hul lesmateriaal, ouergidse, eksamens en assesseringstake korrek, volledig en betyds. Hulle is verseker dat ‘n gekwalifiseerde onderwyserskorps beskikbaar is om hulle werk te assesseer en hulle met vak-advies en hulp te bedien, waar hulle eie kennis en kundigheid tekort skiet. Hierdie onderwysers word dan ook verder ondersteun deur BCVO vakadviseurs om sodoende te verseker dat u doeltreffende, vinnige en doelgerigte ondersteuning geniet. Daar word verder ook spesiale dienste gelewer vir leerders met gestremdhede.